Wat is my eerste gedagte van liefde, dit wat was tussen en my Deon, my droomman, my trou man, die man wat ek so lief gehad het dat dit my seer gemaak het! Ek het nooit weer so oor iemand gevoel nie. Hy het my hart “custard” laat klop, my bene soos “jellie” laat bewe. Ek sal seker Sondag vir sy ma gaan vra vir foto’s van hom, dan sal ek dit scan en vir julle kom wys, watse mooie man hy was, blond, groen blou oè, mooiste stem aan hom gehad, soms as ek so alleen sit, verlang ek so na hom, dan hoor ek sy stem. Dit wat tussen ons was, is my enigste gedagte aan ware opregte liefde!
Is jy lief vir die lewe? Moet dan nie
tyd vermors nie; want tyd is waaruit
die lewe bestaan …. Verlore tyd
word nooit weer ingehaal nie.
~Benjamin Franklin~
Ek was nog op laerskool toe ek hierdie blonde seun die eerste keer sien, my hart het byna uit sy kas uitgespring, toe my pa die oom groet, vra ek dadelik, ken pa die oom dan? My pa het my so gekyk en gelag, genade kind die mense bly so paar huise van ons af, in dieselfde straat. My pa MOES my toe wys waar die mense bly, toe ek die tannie sien en haar groet, vertel my pa my, maar dit is die vriendelike tannie se seun. Ek en die tannie het mekaar gereeld gegroet en altyd gestaan en gesels. Tot vandag toe skryf ons gereeld vir mekaar briewe, ek stuur nog elke jaar vir hulle ‘n kaartjie vir kersfees. Ek gaan kuier nog gereeld vir die oom en tannie, ek is genuine baie lief vir hierdie twee mense, ek het altyd gesè dit is my ander ma en pa.
Soos ek ouer geword het, het ek al hoe meer van Deon gehou, hoe al hoe meer gesien, ons het begin hou van mekaar, gaan fliek, en dieselfde wat ek vir hom gevoel het, het hy vir my gevoel, hy het eenkeer vir my gesè ek is sy alles, hy is liewer as lief vir my. Wat het dan verkeerd gegaan?
Ek was in St 9 toe is hy army toe, Phalaborwa toe, briewe vir mekaar geskryf, foto’s gestuur vir mekaar, hy het soms gebel, as hy kom kuier het, het ons gaan fliek. Maar ……… hy het iemand ontmoet, en die lady het gesorg dat sy swanger word met sy kind. Hulle moes toe trou. Ek was teen die grond, stukkend. Ek ontmoet toe my eks ……..
Deon en sy was nie lank getroud nie, toe is hulle geskei omdat sy ‘n verhouding met ‘n ander man gehad het. Dit het Deon gebreek, maar in die tyd wat hy geskei is, is ek met A getroud, en swanger met Jaco.
Om die hele elle lange storie kort te maak: my ma bel my een oggend om te vertel Deon is dood, ek het die foon neergesit, en net gestap, ek het Beestekraal plat geloop, hoe verder ek loop hoe meer het ek gehuil! Deon is so end van my (eks) skoonpa af begrawe. As ons gaan blomme op die grafte sit, is dit eers my ouma se graf, dan my pa se broer wat in ‘n kar ongeluk gesterf het, twee rye verder is dit my eks se pa (vir wie ek baie baie lief was), dan een ry verder is dit Deon. My blondekop is met my hart is in sy hande hemel toe.
Nadat ek en A geskei is, was die oom se woorde, noudat jy geskei is, is my Deon ‘n ENGEL. Hulle het bly hoop en glo dat ek en Deon tog eendag sal trou.
Hier waar ek nou sit, is hy my enigste gedagte aan ware liefde, want my eks ek was so klein bietjie lief vir hom, maar elke keer as hy of die kinders so geslaan het, (hy was en is ‘n vrouslaner), het ek hom meer en meer gehaat! My gedagtes aan liefde met Koos, daar is NIKS nie, net mooi niks nie! Koos het die vrou in my versmoor, dit bestaan nie meer nie, Koos het my selfbeeld vernietig, Koos het my al so sleg gesè dat geen water my ooit weer skoon sal kry nie. Niks wat ek doen of sè is in hierdie man se oge reg nie … ek weet hy sien tans iemand anders, al die bewyse is daar, hy het dan ‘n strokie waar hulle gaan uiteet het in die kombuis laat lè. Hy het op sy American Swiss rekening ‘n ring vir haar gaan koop. Toe ek die rekening Saterdag gaan betaal het, vra ek die dame is daar nog enige uitstaande gelde, sy sè toe ja die ring wat julle laasmaand gekoop het, moet nog betaal word! Ek het so gebewe ek het nie eers gevra hoeveel uitstaande is nie! As ek gedagtes kry oor Liefde, dink ek altyd net aan Deon!
Filed under: Uncategorized




Ja, dis waar. Mens laat so maklik geleenthede deur jou vingers glip. Daai jare as ‘n meisie swanger was moes die man met haar trou. Of dit nou vir liefde, net skuldgevoel of vrees vir haar pa se dubbelloophaelgeweer, trou moes jy. Gelukkig is die samelewing vandag meer leberaal. Ek sal geen een van my dogters dwing in ‘n ongelukkige huwelik nie. Maar dan leer ek hulle ook die waardes wat ek vir myself gestel het.
Ek het ook op ‘n jong ouderdom my “solemate” lewensmaat ontmoet. Ek was gelukkig en het toe met haar getrou. Ons is nou amper 18 jaar getrou. Moet nie ‘n fout maak om te dink dit gaan altyd maanskyn en rose nie. Onthou net dit is wat ‘n huwelik interessant maak. En dan die opmaak …mmmmm.
Meermin, ek glo steeds daar is iemand “ordentlik” daar buite vir jou. Jy moet hom net vind. Belowe.
Ai, dis hartseer dat julle nooit saam kon wees nie. Maar ek glo ook daar is iemand wat jou weer spesiaal sal laat voel. Jy sal sien.
ai, meermin hierdie het my hart laat bloei vir jou. Moenie dat koos jou verder so vernietig nie, want jy verdien meer as dit, sterkte en dis nie lekker om met die liefde onbeantwoord saam te lewe nie
Net soms wens ek, dat ek die kakebeenpaaie van die lewe met my kaalhande kon oopskeur wat na die siel se liefde lei, want dan sou ek soveel seer kon keer. Maar ek besef ek heet Mefri en nie God nie en ek weet ‘ander’ se keuses weeg soms swaar in ons smart.
Ai, dit is so hartseer
Ek hoop en bid dat jy eendag weer daardie spesiale liefde sal ervaar!
1 ding wat ek uit die lewe geleer het – Moenie in die verlede lewe nie – Staan op en gaan aan.
Dit help nie om te tob oor iets wat dalk kan gewees het nie – dalkies sou julle ook nie gelukkig gewees het nie – dalk wel. Wat die werklike harde feite is jy is nou ongelukkig en hoekom? Jy omring jou met mense wat jou ongelukkig maak en dit sal aanhou totdat jy belsuit om jou met positiewe mense / elemente / gedagtes en en en en omring – ‘n mens straal ‘n sekere “vibe” uit en totdat jy nie ‘n “gelukkige en positiewe vibe” uitstraal nie sal jy ongelukkig bly – jou geluk is in jou hande – doen iets!!!!!!
Goeie raad van Linda v W Meermin!
Meermin
So bly jy het nie opgehou blog nie.
Dankie vir al jou boodskappies daar by my – jou boek sal jy kry.
(((Meermin))) Dis een ding om oor hartseer van verwerping te kom, maar om oor die dood te kom… Dis goeie raad om aan te beweeg en nie in die verlede te leef nie alhoewel dit makliker gese^ as gedaan is, want jy sal natuurlik altyd ‘n plekkie in jou hart vir hom he^. Sterkte.
Wie sal ooit die liefde kan verstaan, nader as ‘n hartkolp en tog verder as die maan…
Tog vreemd hoe die lewe loop, die goeie dinge wat ons deur ons vingers laat glip net om later met die sê-nou-maars en die het-ek-maar’s deur onthou te stoei. Dit voel nie aldag regverdig nie, dit maak byna nooit sin nie, maar wat verby is is verby, en daarmee moet ons uiteindelik maar vrede maak.
Ek glo vas dat daar eendag in die toekoms weer geluk vir jou sal wees, maar daar is ‘n paar skuiwe wat jy sal moet maak voor jy daardie geluk sal smaak. Sterkte vrou, ek dink aan jou!
Ai dis so sad storie maar dit is ware liefde!!
Meermin, ek hoop van harte dat daar sommer binnekort weer ‘n “Deon” vir jou sal wees en dat jy baie gelukkig gaan wees. Jy verdien dit oor en oor!!
Dankie julle vir al die comments.
Laat die dooies, die dooies begrawe. Geen man kan met ‘n spook kompeteer nie. Totdat jy die spook begrawe en voortgaan met die lewe sal jy altyd ongeluk smag. Dit is egter makliker gese as gedaan, sterkte vir die pad voorentoe.
Sterkte! Seer bly seer, ne!